Breederivierroei foto’s

Sent from Samsung tablet

Breederivierroei Dag 2

Ons slaap lekker en word bederf met koffie in die bed en ‘n heerlike ontbyt. Om 10:00 word ons weer afgelaai by die punt waar ons gister gestop het. Ons roei deur ongeveer 4 lekker stroomversnellings en eindig by ons verblyf. Vandag was die enigste “ongeval” Marius wat deur ‘n tak uit die boot gepluk is. Ons stort almal lekker en sit toe aan vir ‘n lekker middagete voordat ons huistoe vertrek.

Sent from Samsung tablet

Breederivierroei Dag 1

Ons uitstappie begin met ‘n kinkel want ons een motor ry eers verkeerd en beland by Round the Bend lodge maar kom darem net betyds vir ontbyt by UP the Creek aan waar die res van die groep reeds lekker eet. Tinus heet ons welkom en ná ontbyt trek ons ons roeiklere aan. Ons word noord van Round the Bend afgelaai van waar ons begin roei nadat Ryan ons eers ‘n veiligheidspraatjie gee. Die ander gidse is Ruan en Johan (Boytjie). In die eerste stroomversnelling val Steph en Dirk om en Marinda val uit hulle boot. Vir die res van die dag roei Dirk saam met Ruan en Steph alleen. Ons stop ná ‘n uur vir snacks en daar word ‘n vuurtjie gemaak. Vir middagete stop ons by Round the Bend waar ons heerlike hamburgers eet. Ons roei ná ete tot by die punt waar hulle ons kom oplaai en terugneem na Up the Creek. Die wind het die laaste stuk van voor af gewaai. Ons stort heerlik en kyk daarna oor ‘n drankie hoe die Stormers afreken met die Force. Hulle bedien vir ons vetkoek met kerriemaalvleis en kaas vir ‘n snack. Die res van die aand kuier ons om die vuur en eet heerlike braaivleis.

Sent from Samsung tablet

Skeepswrakroete Woensdag

Ons het ‘n rustige nag en om 08:08 val ons in die pad. Ons stap via die Groot Visrivier vuurtoring waar ons deur Martin touwys gemaak word oor vuurtorings en daarna opklim in die toring en die meganisme bekyk. Ons hou sommer daar ons teetyd. Ons stap vandaar weer seelangs tot by die Groot Visriviermond en oor die padbrug tot by die Fish River Diner waarop ons heerlike seekos geregte geniet. Om 14:30 word ons opgelaai en by ons motors besorg. Ons ry voorspoedig tot in Jeffreysbaai. Die hele groep gaan eet by die Kitchen Windows.

Sent from Samsung tablet

Skeepswrakroete Dinsdag

Ons slaap lekker en teen 8:20 val ons in die pad nadat ons bagasie opgelaai is. Ons is om 9:05 by die hek waar Dave reeds vir ons wag (‘n uur vroeër as afgespreek!). Ons het heelwat kameelperde en zebras langspad gesien. Ons word in twee groepe na die winkel in Kleinmonde aangery waar ons iets ligs eet en ons aankope saam met Dave na die Stone Cottage aanstuur. Ons stap van daar kuslangs vir so 5km voordat ons oor die duine swenk en 3km verder, om 14:15, by die oulike Stone Cottage aankom. Daar is ‘n yskas, stoof, warm water en ligte!

Sent from Samsung Mobile

Skeepswrakroete Maandag

Ons het ‘n rustige nag en om 8:40 is ons goed gepak en gestoor vir vervoer en ons stap af strand toe. Daar verwonder ons ons aan die rotsformasies en ander dinge in die natuur. Ons maak teetyd en toe stap ons weer terug 3 Susters toe om vir Dave om 12:00 daar te kry sodat hy vir ons na Lilly Pad kan vervoer aangesien ons nie kan roei nie. Hy neem die eerste groep van ses na die hek van die wildreservaat terwyl die ander ses solank die eerste 2km te voet aflê. Ons stap almal saam die 2.5km van die hek na die Lilly Pad hut. Dit is ‘n pragtige hut opset met twee slaaphutte en ‘n kombuishut en daar is twee storte met warm water (jy moet die donkies stook). Dit is geleë op die wal van die rivier met pragtige plantegroei.

Sent from Samsung Mobile

Skeepswrakroete Sondag

Gedurende die nag ‘n sak daar swaar reën uit en toe ons vanoggend opstaan het dit gelukkig ophou reën maar die rivier loop te sterk vir ons om hom te kruis en ons soek toe ‘n roete ál op die wal langs om by die punt te kom waar ons bagasie opgelaai sal word. Ons het toe reeds besluit dat dit te gevaarlik sou wees om met die rivierloop af te gaan en dat ons met die jeepspoor en padlangs gaan uitloop. Gedurende die proses om ons bagasie met die “bundu bash” roete uit te dra het twee van ons dames neergeslaan maar darem nie ernstig seergekry nie. Ons moes dié 100m twee keer doen. Ons bereik die Three Sisters hut teen 11:00 en nadat ons uitgepak het stap ‘n klompie van ons 3km dorp toe met die hoop om iets by die restaurant te eet. Die restaurant en winkel is toe toe ons daar aankom. Gelukkig is die eienaar van die winkel steeds daar en sluit hy vir ons oop. Ons spandeer heelwat daar en op die ou end neem sy vrou en seun vir ons per motor terug. Die foto is van gister se stap.

Sent from Samsung Mobile

Skeepswrakroete Saterdag

Ons het rustig geslaap en vertrek om 8:30. Ons stap weer af strand toe en seelangs tot by Rietrivier waar ons loop om die R72 te kruis en verder ál met die rivier langs. Dit is pragtig soos ons deur die duinewoud loop. Plek-plek is dit maar glad en moet ons kophou. Naby ons bestemming, die Boomhuis, moet ons ons skoene uittrek om die rivier te kruis. By die Boomhuis (14:40) ontdek ons dat dit werklik ‘n boomhuis 6m bo die grond in ‘n boom is! Ons moes daar heen-en-weer oor die rivier om ál ons toerusting in die boom te kry vanwaar dit afgelaai was. Ons braai heerlik en teen 20:00 is almal in die bed.

Sent from Samsung Mobile

Skeepswrakroete Vrydag

Ons sorteer ons kos en pak sodat ons almal gereed is teen 08:00 toe Dave en Vaughn daar aankom. Ons pak ons goed op die bakkie en daarna gee Dave vir ons ‘n praatjie oor die roete. Ons word op Port Alfred se strand afgelaai en nadat ‘n groepfoto geneem is val ons om 10:00 in die pad. Ons stap heerlik seelangs en ná ‘n uur hou ons teetyd. Ons vorder vinnig tot waar ons wegdraai van die kus af en teen die duin uitklim en middagete hou in die skadu. Daarna volg ‘n mooi stukkie deur die woud en net na 14:00 is ons by die Milkwood hut.

Sent from Samsung Mobile